3 maande gelede
‘Gangster’ se uncle doodgeskiet
afgemaai: Altesaam 16 skote is op Tauriq Japhta afgevuur.FOTO VERSKAF  ~ 

SOWAT ’n week ná die mislukte hit op ’n vermeende bende-dikding in Mitchells Plain is sy uncle koelbloedig doodgeskiet.

Nege skote in die gesig, kop en maag was Tauriq “Twiggy” Japhta (50) se voorland.

Die voorval, wat homself Sondag omstreeks 18:40 in Bluebellstraat in Lentegeur afgespeel het, kon volgens Japhta se suster, Rozelia Cloete (47), vermy gewees het.

Cloete verduidelik: “Ons het die boere gebel om hulle van die jongens in die straat te vertel wat verdag lyk.

“Maar toe ons ná die skietery by die polisiestasie kom, het hulle ons vertel dat hulle besig was en nie die fone kon optel nie.”

Sy voeg by dat sy nie weet hoekom hulle haar broer ge-target het nie, want hy was nie by bendes betrokke nie.

“Ons weet nie wat aangaan nie.

“Twiggy was ’n baie humble mens.

“Hy is al 17 jaar uit die tronk en van daai tyd af het hy altyd saam met die kinders gepraat om weg te bly van daai ­lewe af.

“Dís hoe almal hom geken het.”

Cloete het gister hoog en laag gesweer sy sou nie vir haar broer ge-cover het as hy ’n bendelid was nie.

“As hy ’n gangster was, sou ek gesê het, maar my broer was iemand wat teen dié tipe dinge gepraat het.”

Twiggy se neef Riedwaan Atwood (32) is verlede Dinsdag in sy gesig en bors geskiet.

Antwood is glo ’n leiers­figuur van die Terrible Schoolboys in Lentegeur, Mitchells Plain.

Dié voorval het omstreeks 19:30 in Pro­teastraat plaasgevind.

Cloete het bevestig dat Atwood ’n bendelid is.

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het die skietvoorval op Japhta bevestig.

Hy sê: “ ’n Man (50) is met verskeie skietwonde aan sy liggaam op die grond langs ’n kragstasie in Bluebellstraat gevind. Hy is op die toneel dood verklaar.

“ ’n Saak van moord is geopen en die omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek.”

Die polisie het nie gereageer op die familie se beskuldiging dat hulle die cops voor die skietery probeer kontak het nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters