10 dae gelede
‘Dokter-killer kan bieg’
Dr. Raymond DusabeFoto: Facebook  ~ 

DIE vermeende killer van Rwanda se eerste ginekologiese onkoloog het Woensdag in die Kaapstad-landdroshof verskyn.

Die lyk van dr. Raymond Dusabe (40) is Maandag in ’n woonstel in Seepunt gevind.

Sy lyk is omstreeks 11:00 in ’n woonstel in Kusweg ontdek nadat inwoners van die woonstelblok oor ’n stink reuk gekla het.

Dusabe het sy meestersgraad aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Hy het as ’n vlugteling saam met sy ouers in Burundi grootgeword. Hy was werksaam by die King Faisal-hospitaal in Kigali, Rwanda, maar was met vakansie in Kaapstad toe die voorval gebeur het.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het gesê hulle ondersoek ’n saak van moord.

Dusabe het op 26 Desember op Facebook by ’n kuierplek in die Moederstad inge-check.

Volgens kommentaar op die Facebook-inskrywing sou hy Sondag na Rwanda teruggekeer het.

Na verneem word, het Junior Kamono, ’n Kongolees, Dusabe glo aangeval.

Hulle twee het mekaar glo by ’n kuierplek in die stad ontmoet waarna hulle vir drankies na Dusabe se flat gegaan het.

Bekentenis

Kamono het Dusabe glo met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan en sy lyk in ’n kombers toegedraai.

Hy is Maandag in hegtenis geneem.

Die saak is Woensdag uitgestel vir borgtog-inligting, maar Kamono wil glo ’n bekentenis doen.

Hy sal Woensdag weer in die hof verskyn.

Die King Faisal-hospitaal in Kigali, waar Dusabe gewerk het, het op Facebook en Twitter sy medelye betuig.

“Ons is hartseer om die nuus te deel dat dr. Raymond Dusabe vermoor is.

“Ons innige simpatie aan sy familie. Sy werk sal nie gou vergeet word nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters