2 maande gelede
Dié Vlakte-kind vlieg hoog
wees gefokus: Marlon Davids is die dikding by een van die land se TV-reuse. FOTO VERSKAF  ~ 

VAN die strate op die Kaapse Vlakte tot die gange van een van die land se grootste TV-reuse.

Dit is die reis van Marlon Davids (41) van Westridge, ­Mitchells Plain, wat deesdae die besturende direkteur van e.tv is.

Davids het in 2001 by e.tv in die TV-maatskappy se inbelsentrum begin werk.

Vandag is hy aan die stuur van sake by dié uitsaaier.

“Ek het 30 jaar in Mitchells Plain gewoon. In 2001 toe begin ek by die inbelsentrum by e.tv en het oproepe gevat en deurgesit na verskillende afdelings by die maatskappy.”

Davids het 12 jaar by e.tv gewerk, waarna hy na ’n ander uitsaaier toe is.

“Maar ek het e.tv te veel gemis en is ’n jaar later terug na e.tv se Johannesburgse kantore.”

Hy is al die afgelope 15 jaar by die uitsaaier, maar het nooit gedroom van enige sukses in die TV-bedryf nie.

“Ek kom van die Kaapse ­Vlakte af en destyds as jy as ’n bruin mens suksesvol wou wees, het vroue verpleegsters geword en mans onderwysers. So, ek wou nog altyd ’n onderwyser geword het.”

Maar toe hy in 1993 matrikuleer, het al die onderwyskolleges gesluit en was dit nie meer ’n opsie vir hom nie.

“Ek is Cape Tech toe om besigheidsadministrasie te studeer en kon nie ’n werk daarin vind nie.”

Hy sê dit is hoe by die inbelsentrum van e.tv opgeëindig het.

“Ek het nooit bedoel om in TV te werk nie.”

Maar as enigste kind was TV sy vriend toe hy grootgeword het. “En nou leef en doen ek iets waarvan baie mense net kan droom.”

Hy wil die jeug op die Kaapse Vlakte inspireer.

“Dit is belangrik om in die skool te bly. Moenie toe laat dat jou omstandighede of die realiteit waarin jy jouself bevind, bepaal waar jy jouself gaan bevind nie.”

Davids sê hy glo altyd dat mense hulself moet verhewe na die volgende vlak in die lewe.

“Maar die probleem met baie van vandag se jeug is dat hul eerste fokus geld is en dat hulle baie geld wil verdien.

“Maar as jy fokus om die beste te word in wat jy doen en jou passie te vind en ’n kenner in jou werk te word, sal die geld kom.”

Hy sê hy moes ook baie ­opofferings maak om te kom waar hy vandag is.

“Dit het my 14 jaar gevat en ek moes baie opofferinge maak voordat ek gekom het waar ek vandag is.

“Maar uiteindelik pluk jy die vrugte van jou sukses.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters