8 dae gelede
‘Dié skietery is nog net begin’
hof: Drie verdagtes is gister vrygelaat oor daar geen bewyse teen hulle is nie. Foto: MELINDA STUURMAN  ~ 

“MAANDAGOGGEND se skietvoorval by die posh nagklub in Kampsbaai is die begin van vele.”

Só het ’n bron na aan die die saak vertroulik gister aan Son by die Kaapse landdroshof gesê.

Twee mense is gedurende die skietvoorval by Café ­Caprice gewond.

Volgens ons bron is die skietery verbind aan ’n “misverstand” in die underworld van bende-aktiwiteite.

Dié “misverstand” het ontstaan toe ’n nuwe groep die sekuriteitbeheer van nagklubs in die Kaap begin oorneem het.

Volgens die bron was dit “’n klap in die gesig” vir die ouer groep wat al jare die sekuriteit van nagklubs beheer.

Oorlog is toe tussen die ou en nuwe faksies verklaar, sê die bron.

Die nuwe groep word verbind met ’n skatryk Pakistani.

Nog ’n invloedryke figuur wat vroeër onder die soeklig gekom het oor die beweerde gesmokkel met luukse voertuie, word ook met die nuwe faksie verbind.

Die bron vertel: “Dit is ’n baie bekende bendefiguur wat die ouer sekuriteitgroep bestuur en almal weet dat hy nie gaan lê sonder ’n fight nie.

“Daar word nou pryse op mense se koppe gesit om sodoende beheer te herwin.

“Hierdie is ’n power ­struggle en baie mense gaan nog sterf voordat die oorlog verby is.”

Die bron het ook verklap dat die twee mense wat Maandagoggend by Café ­Caprice geskiet is, onskuldig is.

Een van die mense wat raak geskiet is, is glo die eienaar van ’n motorbanddienssentrum wat verlede jaar gebom is.

Maar dié man het dit gister aan News24 ontken.

Daar word ook beweer dat daar lede van die nuwe ­sekuriteitsfirma binne die klub was en dat dit ’n hit op hulle was.

Drie mans van Mitchells Plain is gearresteer vir die skietery by die klub en was veronderstel om gister in die hof te verskyn.

Die saak is egter teruggetrek.

’n Ingeligte meen die rede waarom die saak nie op die rol was nie, is oor die ondersoek onvolledig is.

Hy vertel: “Daar is geen bewyse wat toon dat die drie verdagtes direk met die skietvoorval verbind kan word nie.

“Getuienis is nog uitstaande, sowel as die video footage van die aand van die voorval.

“Die hof moet ook wag vir die uitslae van ballistiese verslae.”

Kapt FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dat die saak by die hof teruggetrek is.

Van Wyk het ook gesê dat die ondersoek steeds voortgaan.

’n Bestuurder by Caprice wat nie sy naam wou noem nie, het gister aan Son gesê hulle wil nie by die hele ding betrokke raak nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters