2 maande gelede
Cops soek nou bose kopdiewe
KOPLOOS: Nico van Rooyen se graf is oopgemaak en diewe het sy skedel gesteel.FOTO’S VERSKAF  ~ 

DIE voorval van Nico van Rooyen (69) van Delft wie se skedel uit sy graf gesteel is, word nou deur die polisie ondersoek.

Van Rooyen se dogter ­Anne Stone (43) het aan Son gesê haar pa se graf is al drie keer dié jaar geskend en sy hoop dit was die laaste keer.

Stone sê: “Dit is baie vreemd dat my pa se skedel drie jaar nadat hy begrawe is, gesteel is.

“My pa het nog in sy pak klere gelê waarin hy begrawe is, maar daar was geen skedel nie.

“ ’n Gedeelte van sy kaak en stukkies van sy kis is tussen die sand gekry.

“Ek hoop die diewe gaan my pa se graf uitlos en dit nie vir my nodig sal wees om my pa se oorskot op te grawe en te veras nie.

“Dit is baie traumaties om elke keer te sien hoe jou pa se graf verniel word.”

Volgens raadslid Siyabulela Mamkeli, burgemeesterskomiteelid vir die sentrale area, is hulle bewus van die voorval en word die saak deur die polisie ondersoek.

Mamkeli sê: “Die familie het toestemming gegee dat die graf oopgemaak word.

“Daar is toe ontdek dat die skedel uit die graf gesteel is.

“Die polisie is onmiddellik ingelig en ’n saak is geopen.

“Twee weke daarna was daar weer by die graf ge­peuter.

“Die familie het aansoek gedoen om die graf toe te bou.

“Skaars ’n week daarna was die graf weer gevandaliseer.

“Grafte wat gevandaliseer word, is altyd ’n groot probleem, veral waar been­dere verwyder word.

“Dit is nog onduidelik waaroor dieselfde graf herhaaldelik gevandaliseer word.”

Mamkeli sê begraafplase is groot en dis moeilik om al die grafte op te pas.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters