2 jaar gelede
Jonges leer van Khoi se kultuur
leier: Hoofman George Maleiba wil die Khoi-tradisies met almal deel.
TOERUSTING: Die leerders vind uit die Khoi het talle soorte wapens gebruik.
luister mooi: Die leerders van Laerskool De Vos Malan gee die hoofman hul volle aandag. Foto’s: BRYAN GOLIATH

“DAAR is mos ’n sêding wat lui dat bruin mense nie ’n kultuur het nie, maar die Khoi het ’n ryke geskiedenis en kultuur.”

Só het ’n Khoi-stamhoof, hoofman George Maleiba, gister in die Korsten-biblioteek aan ’n groep leerders van Laerskool De Vos Malan gesê.

Maleiba se besoek was deel van die program vir Biblioteek-week in die Baai.

Hy het die leerders meer oor die kultuur en agtergrond van die Khoi geleer.

Maleiba het verduidelik die Khoi was van die eerste mense wat in Suid-Afrika gewoon het.

Hy het vertel buitelanders het honderde jare gelede gekom en die inheemse mense name gegee.

“Die inwoners van die land was lief daarvoor om tydens volmaan regdeur die nag te sing, dans en fees te vier.

“Die buitelanders het geluister, die taalgebruik nie verstaan nie en die mense Hottentotte genoem. Later is die vernederende naam H*tn*t aan dié mense gegee.

“Die Engelse het in die 1800’s hier aangekom en gesien die gelaatstrekke van die mense verskil.

“Party was lig van kleur en ander donker van kleur en die Engelse het die mense toe Coloureds genoem.

“Ons mense het nooit dié name vir hulself gegee nie, dis deur die buitelanders gedoen.

“Daarom kry jy nog tot vandag toe mense wat trots sê hulle is Kleurlinge.”

Maleiba het ook sy eie gevoelens baie duidelik gemaak.

“Ek is nie ’n Kleurling nie. Hierdie name is gegee om ons af te kraak en om ons van ons trots te ontneem.

“In 1928 het ’n buitelander in die land gekom en gesien daar is Boesmans en Khoi-stamme.

“Hy het toe die naam Khoi-San aan die mense gegee. Dit is nie ’n naam wat die mense self gegee het nie.

“Ons wil graag die mense onderrig aangaande hul herkoms,” het hy afgesluit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters