2 maande gelede
Skote het dié dorpie doodstil
gebroke: Alvina November sê sy mis haar neef omtrent. Foto’s: Jonathan Lestrade  ~ 
vrees: Mammies laat deesdae nie meer toe dat hul kinders sommer buite speel nie.
nog besig: Die strate van Cloetesville word elke dag teen 17:00 grafstil.

TEEN 17:00 lyk dit asof daar ’n aandklokreël in Cloetesville ingestel is – die strate is grafstil.

Al wat inwoners dan agter hul geslote deure hoor, is hoe die gun-skote klap.

Volgens lede van dié klein gemeenskappie buite Stellenbosch klink en lyk dit soos ’n scene uit ’n Western-fliek.

Volgens die inwoners, wat uit vrees verkies om anoniem te bly, skuil hulle agter toe deure.

Een inwoner vertel sy is selfs te bang om haar kind buite te laat speel omdat sy nie wil hê die kind moet ’n getuie in ’n skietvoorval word nie. Daar word beweer die gangsters teiken nou kindertjies.

Sandrino Pieterse (27) is einde Augustus koelbloedig voor sy sewejarige klong af­gemaai.

Volgens die kind se familie­lede kry hulle nog ­gereeld doods­dreigemente omdat die kleintjie alles gesien het.

’n Familielid, wat ook verkies om anoniem te bly, verduidelik: “Ons is so bang iets gebeur met hom, want die gangsters sal nie twee keer dink om terug te kom vir hom nie.”

Alvina November, Pieterse se antie, verduidelik wat die dag van die moord gebeur het.

“Die laaste keer wat ons Drino gesien het, was toe hy opstaan en sy seun vat om sop by die sopkombuis te gaan haal.

“Drino was nie lank uit die huis toe ons die skote hoor afgaan nie.

“Ek het nie geweet dit is Drino nie, maar toe sien ek dat die seun oor sy pa se lyk staan.”

Volgens November was Pieterse iemand wat net vir sy kind geleef het.

“Hy het goed aangevang, maar hy was nie by gangs betrokke nie.”

November sê sy kry dreigemente van mense wat by haar neef se moord betrokke was.

Die mammie voeg by dat haar seun sedert die dag van die moord ’n heeltemal “different kind” is.

“Hy is baie aggressief. Hy act altyd die dag van sy pa se moord uit.

“Hy baklei sommer enige tyd. Dit het so ver gegaan dat hy ’n vrou met ’n graaf geslaan het omdat ‘Drino vrek moet gaan, want hy (die kleintjie) is die skieter’.”

Volgens die mammie is sy nou doodbang vir haar kind se lewe.

“Hy is maar net ’n kind. Hy het saam met sy pa geloop. Hoekom moet hulle nou so maak?”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters