5 dae gelede
Oompie maak nog beloftes
opgewonde: Die tannie met die pers hoed bly vas glo Oompie gaan ál sy beloftes gestand doen.  ~ 
Rek sy bek: Past. David “Oompie” Cupido swaai sy vinger en belowe sy beleggers hulle sal voor Krismis uitbetaal word.Foto’s: JONATHAN LESTRADE
opgewonde: Die tannie met die pers hoed bly vas glo Oompie gaan ál sy beloftes gestand doen.

PAST. David “Oompie” Cupido het sy beleggers op sy Facebook-blad 4th Power Investments in kennis gestel hy gaan hulle via ’n kaartstelsel uitbetaal.

In dié kennisgewing bedank past. Cupido en sy vrou, Febe, hulle vir hul toewyding en geduld.

Dít volg nadat Cupido hulle vir meer as ’n jaar aan ’n armoedige lyntjie gehou het nadat die Valke in 2016 op hom toegeslaan het.

Toe die Valke sy gelde vries, het hy nie toegang tot sy 12 000 beleggers se miljoene gehad en kon hy hulle nie betaal nie.

Sy volgelinge het egter vas bly glo hul “messias” gaan deurkom vir hulle.

Son het onlangs ’n ver­gadering in Touwsrivier bygewoon waar ’n baie deftig geklede Cupido sy beleggers met swaaiende hande ingelig het oor wat die pad vorentoe inhou.

Hulle het omtrent uit hul vel gespring van opgewondenheid toe hy by die saal instap.

Die kennisgewing aan sy beleggers lui: “Ons wil graag aankondig die uitbetalingsproses is gefinaliseer.

“Die uitbetalings geskied vanaf 5 Desember 2017.

“Ons bevestig dat die nodige fondse vir uitbetalings gereed is.

“Die manier van uitbetaling sal via ’n spesiale debietkaart gedeponeer word.

“Die verspreiding van die debietkaart sal deur 4th ­Power gehanteer word.

“Afhaalpunte in verskeie dorpe sal aangekondig word. U is verplig om u ID-dokument en bewys van adres te toon by kolleksie van kaarte.

“Weereens baie dankie vir u geduld. U samewerking word opreg waardeer tydens hierdie proses. David en Febe Cupido.”

Intussen het 5 Desember al geskiedenis geraak, maar steeds het die beleggers toe hulle dié boodskap ontvang, uit hul vel gespring.

Beverley Meyer se reaksie was: “Goeie môre aan al die Guptas in die 4th Power huis! Geseënde dag vir julle.

“Forward we shall march, high we shall fly. Aan God ál die eer.”

Rochelle Lawrence was net so in haar noppies met die goeie nuus en het geskryf: “Baie dankie, David en Febe Cupido, en die bestuur van 4th Power Investments.

“Ons is so dankbaar dat julle die eerste skof van die visie kon voltooi.

“Soos David altyd sê – die stryd begin nou eers.

“Ons wens julle alle voorspoed toe vir dit wat nog voorlê.

“Ek gee vir julle 1 Kron. 4:10. God seën.”

Deidre Januarie, wat weens haar nood die ongelowige Thomas onder die span beleggers is, het geskryf dat sy in spanning wag.

Maar teen druktyd blyk dit asof niemand al uitbetaal is nie, behalwe die Sassa-werker wat Dinsdag meer as R2 miljoen ontvang het.

Craigen Abrahams sê hy was glad nie geflous deur die kennisgewing nie.

Sy reaksie is: “Is vandag die sesde. Die vyfde was gister en dis nou ’n kaart-storie. Kom ons wag vir next week, dan hoor ons wat die volgende storie gaan wees.”

Son het past. Cupido probeer bereik vir kommentaar, maar soos tevore het alle oproepe na sy fone onbeantwoord gebly.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters