5 dae gelede
Oompie betaal R2 m., brêk ou
godsman: Oompie is steeds ’n pastoor en het sowat twee weke gelede ’n doopdiens gehou.Foto’s: facebook  ~ 
godsman: Oompie is steeds ’n pastoor en het sowat twee weke gelede ’n doopdiens gehou.Foto’s: facebook
glo vas: Oompie en sy volgelinge wys ’n handgebaar van 4th Power.
ongelukkig: Joanie en Rodney Visagie van die ­Worcester-aksiegroep wag nou op hul rente.Foto: jonathan lestrade
bewyse: Die man het omtrent vir almal dié inbetaling gewys.FOTO verskaf

EEN van Oompie se beleggers wat vir Sassa werk, het gister meer as R2 miljoen in sy rekening van 4th Power ­Investment ontvang.

Verder het die res van sy beleggers hulle gister blou gewag, maar al wat uitbetaal, is David “Oompie” Cupido.

Toe gaan drom hulle saam by sy huis in Touwsrivier.

Son is in besit van ’n video wat wys hoe die onbekende belegger spog met die geld wat in sy rekening betaal is.

Cupido, die baasbrein ­agter 4th Power Investments, het aan sy beleggers belowe om op 5 Desember hul geld uit te betaal sodat hulle ’n lekker Krismis kon hê.

Maar Joanie Visagie van die Worcester-aksiegroep het aan Son gesê dat sy gister skaars haar gesig by die deur kon uitsit oor die beleggers soos valke op haar toegesak het. Visagie sê: “Mense pla my van alle kante in die straat.

“Nadat ek ’n vergadering bygewoon het, het ek en my man na die slaghuis geloop om iets te gaan kry om te eet, maar toe moes ek omdraai.”

Volgens Visagie het iemand hulle in kennis gestel dat Cupido sy beleggers op 5 Desember gaan “update” oor die uitbetalings.

Sy het omtrent hieroor uitgevaar. “Ons wil nie weet van updates nie!

“Die mense wil hê hul fone moet afgaan met ’n kennisgewing van uitbetaling van 4th Power. Dis al!

“Hy moenie speel met die mense nie, want hulle soek hul geld.”

Visagie sê hoewel sy, haar seun en Rodney Visagie hul geld al in Februarie ontvang het, het hulle nie hul rente gekry nie.

“Dis nie net ons wat nie ons rente ontvang het nie.

“Daar is baie ander wie se name ek nie sal noem nie.

“My seun het net sy R5 000 gekry wat hy belê het. Toe ons ons geld vir hom gee, was daar mos voorwaardes.”

Sy sê hulle het nie geld aan hom gegee om in sy kas te hou nie.

“Dit kon ons mos dan self gedoen het.

“Ek gaan hom nie so los as hy nie ons rente uitbetaal nie.”

Volgens haar het Cupido op ’n vergadering aan hulle verklap dat hy steeds “trade” nadat die Valke op hom toegeslaan het.

“Hy’t dan so gebrêk dat hy twee laptops gaan koop het toe die Valke sy goed ingetrek het.

“Hy’t gesê dat hy voortgaan met sy besigheid.”

Visagie sê dat sy aan die beleggers gesê het dat hulle Cupido moet kans gee tot die 10de.

Nog ’n belegger, wat anoniem wil bly, het aan Son gesê sy en Cupido is glad nie op speaking terms nie.

Volgens die belegger wou sy by hom weet hoekom hy dan eers gister die geld wou uitbetaal nadat die Valke al sy geld teruggegee het.

Die belegger, wat nie wou verklap hoeveel geld sy aan Cupido gegee het nie, sê dit was “genoeg.”

Cupido het nie gister ­gereageer op Son se oproepe na sy sewe nommers nie. Sy vrou het ook nie oproepe beantwoord nie.

Ná ’n ruk het hy sy foon beantwoord op een van die vele nommers en dadelik weer afgedruk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters