2 maande gelede
‘Ons kan dit nie verwerk’
GEBROKE: Ronald en Lee-Ann soek steeds antwoorde. Foto: COLIN HENDRICKS  ~ 
GEBROKE: Ronald en Lee-Ann soek steeds antwoorde. Foto: COLIN HENDRICKS
oorleef: Lee-Ann met haar baba (nou 10 maande), wat teen die sypaadjie beland het. Foto: COLIN HENDRICKS
Ronesmé de LouisFOTO VERSKAF
ONGELUK: So lyk die voorkant van die bakkie.Foto: FACEBOOK

HAAR ouers kan sewe maande later steeds nie haar grusame dood verwerk nie.

En die polisie maak dinge glad nie makliker vir die ouerpaar wat hul vierjarige prinsessie in ’n beweerde dronkbestuur-ongeluk verloor het nie.

Ronesmé de Louis is in Januarie dood toe ’n vermeende dronk bestuurder in ’n BMW teen sowat 200 km/h teen hul bakkie gebots het.

Sy, haar ma, Lee-Ann (27), en haar drie maande oue suster was agter in die bakkie. Haar pa, Ronald (28), het die bakkie bestuur en sy skoonma het langs hom voor in die bakkie gesit.

Die 19-jarige bestuurder van die BMW het glo oor ’n rooi verkeerslig gery en in hulle vasgery. Die impak was so groot dat hul bakkie in die helfte geskeur het en Lee-Ann, die baba en Ronesmé uit die agterkant van die bakkie geruk is.

Ronesmé se tenger lyfie is teen ’n yster-lamppaal gegooi. Sy is op slag dood.

Die baba het langs die sypaadjie beland. Lee-Ann was bewusteloos en het op die ongelukstoneel ’n beroerte gehad.

“Ek kan dit nie verwerk nie. Ek is steeds verskriklik vies,” sê Lee-Ann met trane in haar oë. “Ek is kwaad, want mense in Mbekweni, waar die bestuurder woon, sê hy loop rond asof niks gebeur het nie.

“Ons lewe met die seer en hy gaan aan soos iemand wat nooit iemand se lewe gevat het nie,” sê sy.

Lee-Ann is woedend vir die Mbekweni-polisiestasie.

“Dis al sewe maande en ons het nog niks van die polisie gehoor nie. Hulle bel ons nie en laat weet niks nie.”

Sy sê die polisie het eers in Februarie, ’n maand ná die ongeluk, ’n verklaring by hul huis kom afneem.

Ronald vertel hy onthou die dag van die ongeluk nog goed.

“Dit was ’n harde slag. Ek het uit die bakkie geklim en gekyk waar my vrou en kinders is.

“Ek het eerste my babatjie langs die sypaadjie opgetel.

“Toe gaan ek na Ronesmé toe. Haar oë was oop, maar sy was oorlede.”

Hy sê toe hy na die BMW gaan, het al die insittendes en die bestuurder gevlug.

“Die kar was vol leë bierbottels en lang glase.”

Die vermeende dronk bestuurder het selfs die kar agter die bakkie se voorkant ook weggestamp.

Ná die ongeluk was Lee-Ann ’n week lank in die hospitaal.

Hul drie maande oue baba was in ’n yster-raam, want haar been is in die ongeluk beseer. Ronald het ligte beserings opgedoen.

“En ons het steeds nie Ronesmé se dood verwerk nie. Ons probeer maar sterk wees vir ons baba,” sê Lee-Ann.

Ronald sê die polisie sloer te lank met die ondersoek.

“Die man is nooit eens gearresteer nie. Dit is al sewe maande. Ronesmé sou einde dié maand vyf geword het,” vertel hy.

Hoekom

Ronald sê hy wil die bestuurder ontmoet.

“Ek wil net weet hoekom.”

Lee-Ann sê Ronesmé was haar prinsessie.

“Sy was mal oor Disney movies en lief vir lag.

“Sy was mal oor haar sustertjie. Dit is net hartseer dat haar suster haar nou nooit sal ken nie,” sê Lee-Ann.

Die provinsiale polisie het nie veel te sê gehad oor die ondersoek klaarblyklik sloer nie.

“Die klaer word aangemoedig om aan die Mbekweni-polisie se bestuur te rapporteer dat daar nog geen terugvoer van die ondersoekbeampte is nie sodat die bewerings ondersoek kan word,” is al wat lt.kol. Andrè Traut, die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, gesê het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters