8 maande gelede
‘Onnie spot kind hy is ’n oom’
geskend: Angeline en Esau is bekommerd oor hul kind se menswaardigheid. Foto’s: COLIN HENDRICKS  ~ 
geskend: Angeline en Esau is bekommerd oor hul kind se menswaardigheid. Foto’s: COLIN HENDRICKS
Reg vir aanbeweeg: Anthony is ook al moeg van Hexpark Primêr.

Angeline Fortuin (57) van Worcester sê haar voogkind, Anthony (16), se menswaardigheid word deur ’n onderwyseres skend.

Anthony woon by Fortuin en haar man, Esau (44), sedert 2009 ná sy ma se afsterwe.

“Hy het ’n moeilike grootword.

“Hy moes na sy ma omsien toe hulle op straat gewoon het.

“Hy het maar eers op 9-jarige ouderdom skool toe gegaan nadat sy ma oorlede is.

“Ek het Anthony by Hexpark Primêr ingesit, maar vandat hy daar is, het ons probleme met die skool.”

Fortuin vertel weens Anthony se swaar grootwordjare en hy wat nooit ’n kinderlewe gehad het nie, omdat hy na sy “drinker”-ma moes omsien, het sy “maar ’n klein hartjie as dit kom by hom”.

Anthony sê die spesifieke juffrou wat hom uitjou oor sy ouderdom, noem hom ’n “oom” en dat hy “op genade by die skool is” en dat hy van die “skool moet f*k*f, want hy behoort nie meer daar nie”.

Sy het ook gesê dat hy al ’n volwassene is en dat hy nie op laerskool hoort nie, sê Anthony.

Hy sê sy bly dit voor die ander klasmaats doen.

“Ek is baie ongelukkig daaroor. Sy skend sy menswaardigheid. Ek het al gaan kla hieroor, maar die juffrou kom nooit niks oor nie,” sê Fortuin.

Sy sê die juffrou “maak soos sy smaak” by Hexpark Primêr en kom weg met alles.

“Ek was tot by haar klas om haar te vra hoekom sy so lelik met hom is, toe gooi sy die deur in my gesig toe.”

Fortuin sê hoewel Anthony nie goed in sy skoolwerk is nie, is hy goed in sport. “Maar die onderwysers kan nie só met hom praat nie.”

Anthony sê hy is selfs al moeg van laerskool en is gereed vir hoërskool. “Ek sien baie uit daarna.”

Millicent Merton, woordvoerder vir die WKOD, sê daar is ’n klagte by hul arbeidsverhoudinge ingedien, wat die saak ondersoek.

“Die departement gaan met die relevante rolspelers in verbinding tree, die pleegma en Anthony, om ’n geskikte uitkoms vir die situasie te vind.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters