8 dae gelede
Nuwe base sit 4 gesinne uit
wat nou? Die inwoners weet nie waarheen om te gaan nie. Foto: BASIL DAVIDS  ~ 

MONTAGU. – Vier gesinne moet hier van privaat grond af padgee oor hul huise gesloop gaan word.

Hul plek, wat al jare as die Steenoonde bekend staan, is gelikwideer.

Die inwoners het onlangs ’n kennisgewing gekry wat lui dat hulle hul goedjies moet pak en trek.

Die inwoners se dilemma is egter dat hulle nog geen ander heenkome het nie.

Volgens die gesinne woon hulle al langer as 30 jaar op die grond.

“Ons weet nou nie watter kant om heen te gaan nie,” kla hulle.

Gert Jambo, wat hier grootgeword het, sê die plek lê hulle baie na aan die hart.

“Ons is hier gebore en onse kinders is almal hier gebore. Nou moet ons afskeid neem van die plek wat diep in ons harte gekruip het,” verduidelik Jambo verleë.

Jambo wil nou probeer regsadvies inwin oor wat hulle te doen staan.

Die nuwe eienaars, Paul Jordaan en Andries van Heerden, sê die mense moet ongelukkig die plek ontruim.

Hulle het ’n hofbevel wat lui dat die inwoners hul kampie dadelik moet verskuif.

Samuel du Plessis, raadslid van Icosa, het hom sterk teen die uitsettingsbevel uitgespreek.

Du Plessis sê niemand het die reg om mense sommer net van die grond af te sit nie. Du Plessis sê hy sal sorg dat die mense se huise nie gesloop word nie en dat hulle hier by die Steenoonde gaan aanbly.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters