5 maande gelede
Kontrakte nou onder soeklig
Regverdig? Die Witzenberg-munisipaliteit se mayor, Barnito Klaasen, sê die regte prosedure is gevolg met die hernuwings van die kontrakte.FOTO’S verskaf  ~ 

OPPOSISIEPARTYE in die Witzenberg-munisipaliteit gaan regsadvies inwin nadat twee senior beamptes se kontrakte hernu is.

Dit volg nadat die raad op ’n spesiale vergadering gister die werkkontrakte van die munisipale bestuurder, David Nassan, en die direkteur van bedryfsdienste, Monwabisi Mpeluza, hernu het.

Nassan se kontrak is vir vyf jaar hernu terwyl Mpeluza s’n met sewe jaar verleng is.

Witzenberg-Aksie (WA) en Icosa het egter nie met dié besluit saamgestem nie.

’n Icosa-raadslid, Petrus Herandien, sê die betrokke kontrakte is nie eens deur die raad gesien soos dit moet wees nie.

Hy sê: “Ons weet nie eens of hulle (Nassan en Mpeluza) aan die vereistes voldoen nie.

“Ons het al ’n probleem met Nassan gehad, want hy voldoen nie aan die ­vereistes van die PFMA (Public Fi­nancial Management Act) nie.”

Volgens Herandien was dit ’n geval van die regerende DA se misbruik van sy meerderheid in die raad.

“As hulle (die DA) ’n party van gelyke geleenthede vir almal is, soos hulle beweer, hoekom was die poste nie geadverteer sodat almal wat kwalifiseer daarvoor aansoek kon doen nie?” vra hy.

“As Icosa en die WA gaan ons ’n regsopinie oor die aangeleentheid inwin.

“Ons gaan ook die gemeenskap in dié verband raadpleeg.”

Ondersteun

Gert Laban, WA-raadslid, sê die regte prosedure is nie gevolg nie, want die raad het nie vooraf die kontrakte ­gesien nie.

Hy sê: “Ons gaan met ons regspan praat en die publiek inlig dat ons nie die besluit ondersteun nie.”

Die burgemeester, Barnito Klaasen, sê in reaksie alle prosedures is gevolg.

Volgens hom was dit nie nodig om die poste te adverteer nie, aangesien dit net hernuwings was.

“Dis alles deur die minister van plaaslike regering (Anton Bredell) goedgekeur,” verduidelik Klaasen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters