6 maande gelede
Hier ruik ’n rot
agteraf: Die skerm op die agtergrond sorg dat verbygangers salig onbewus is van die bedrywighede.Foto’s: KALLIE SMIT  ~ 
baie: Werkers is hier besig om die leë grafte te vul.
agteraf: Die skerm op die agtergrond sorg dat verbygangers salig onbewus is van die bedrywighede.Foto’s: KALLIE SMIT

SARON. – “Paupers” van die Paarl en Wellington word hier onder groot geheimhouding begrawe.

Inwoners het dit nou uitgevind en like dit net mooi niks dat hul begraafplaas so krimp nie.

Pas nadat nog ’n vrag armlastiges begrawe is, het inwoners begin lont ruik.

Son het die begraafplaas besoek en self gesien hoe vier leë grafte gevul is met ’n volgende 17 wagtende leë grafte.

Terwyl armlastiges so seremonieloos in die aarde weggebêre word, is ’n skerm gespan na die straat se kant sodat inwoners nie kan sien wat aangaan nie.

’n Betroubare ingeligte het Son vergesel toe die onopgeëiste lyke begrawe is.

Alles is in ’n japtrap afgehandel sonder dat verbygangers snuf in die neus kon kry.

Van die werkers wat die grafte moes toegooi, het gekla oor die reuk wat sommige van die lyke afgee en vloeistof wat by van die kiste uitloop.

Selfs rdl. Hannes Smit het nie kennis gedra van dié bedrywighede nie, hoewel die lyke glo al van die begin van die jaar reeds daar begrawe word.

Smit het die kwessie met die Drakenstein-munisipaliteit bespreek.

Smit sê die munisipaliteit het opdrag gegee het dat die bedrywighede gestaak word.

Son is egter verlede week (11 April) weer na die begraafplaas ontbied toe nog sewe lyke daar begrawe is.

Enkele van die werkers het maskers opgehad.

Van die kiste, met die oorledenes se name op, het nat kolle opgehad met liggaamsvog wat uitloop.

Geeneen van die munisipale werkers wou met Son praat nie.

’n Ontstoke Betty Muller sê: “Een van die dae is daar nie meer plek vir ons eie mense nie.

“Waarom is die gemeenskap nie van die begin af in dié saak geken nie?”

Gary Boshoff, die uitvoerende bestuurder vir gemeenskapsdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, sê: “Die lyke is deernisgevalle waar die families nie die lyk opeis of as hulle nie kan bekostig om die afgestorwenes te begrawe nie.

“Die begraafplase in die Paarl en Wellington is onder druk weens beperkte kapasiteit.”

Boshoff sê die burgemeester en munisipale bestuurder het onderneem om met die raadslid te vergader om die aangeleentheid te bespreek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters