Verlede maand
Henri dien ál sy wonde self toe

DIE beserings wat Henri van Breda opgedoen het, is self toegedien en ­oppervlakkig.

Só het dr. Marianne Tiemensma, hoof van die kliniese forensiese eenheid van die ­Victoria-hospitaal, gister getuig.

Henri (22) staan in die Kaapse hooggeregshof tereg vir die moord op sy ouers, Martin en Teresa, en sy broer, Rudi, op 27 Januarie 2015 by hul larney huis op die De Zalze-landgoed buite Stellenbosch.

Sy suster, Marli, is ook wreed met ’n byl aangerand.

Marli het die aanval oorleef, maar ly sedertdien aan ­ge­heue­verlies.

Henri het net ’n paar skrape opgedoen. Hy beweer ’n laggende, bylswaaiende ma­niak in ’n balaklawa het sy gesin opgekap.

Dr. Lizette Albertse, die distriksgeneesheer wat Henri ’n paar ure ná die aanval ondersoek het, het Tiemensma gevra om na ­foto’s van die wonde te kyk om te bepaal of dit self toegedien is.

Volgens Albertse was ál sy wonde oppervlakkig, tot so ’n mate dat dit nie nodig was dat hy in ’n hospitaal behandel moes word nie.

Albertse kon egter nie sê of die wonde self toegedien is nie.

Tiemensma het bevind die snywonde was oppervlakkig en nie fataal nie.

Almal is ook ewe diep, parallel en vermy sensitiewe areas soos die nipples.

“Dit is onwaarskynlik vir ’n slagoffer wat aangeval word om nie verdedigingswonde te hê nie en ook wonde wat almal dieselfde is nie,” het sy getuig.

Tiemensma het bygevoeg dat al die snywonde deur die arms bereikbaar is.

Die knop bo sy oog kon van ’n val of vuishou gekom het.

“Van Breda se beserings is in sterk kontras met die beserings wat sy familie op­gedoen het en is tipiese self- toegediende wonde,” het ­Tiemensma bevind.

Die verdediging het gevra dat hy sy eie deskundige kan kry om in te sit voordat sy verder getuig.

Tiemensma sal Dinsdag voortgaan met haar getuienis.

Sers. Jonathan Oliphant het getuig daar is geen vingerafdrukke op die byl gevind nie. Henri se vinger­afdruk is wel op die lem van die mes gevind.

Altesame 53 vingerafdrukke is gevind. Baie van die afdrukke is die familie s’n, maar daar is ook afdrukke wat nie geïdentifiseer kon word nie.

Henri se lawyer, adv. Piet Botha, het dit aan hom gestel dat iemand wat handskoene gedra het, die byl kon hanteer het en dis hoekom daar geen vingerafdrukke daarop was nie. ­Oliphant het dit toegegee.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters