Verlede maand
Familie baklei nou oor huis
twis oor familiehuis: Madeleine Hoffman (38) en haar oom Frikkie (68) het ’n prokureur gekry oor hul antie hul familiehuis onlangs verkoop het. Foto: Nicola Daniels  ~ 

EEN dogter het blykbaar die familiehuis geërf en nou wil sy haar broer, suster en susterskind met haar kinders uit die huis in Franschhoek hê.

Haar susterskind Madeleine Hoffman (38) kan nie verstaan wat haar antie nou wil doen nie.

Sy sê: “My antie het vir ons almal briewe gebring om te sê dat sy R500 rent soek.

“Maar daar is geen skuld op die huis nie en die rates is maar onder R200 ’n maand. So, wat wil sy met die geld maak?

“Verder is ons nog nooit ingeroep deur ’n prokureur vir die testament om gelees te word nie.

“Sy sê net dis haar huis, nadat my oupa al vier jaar dood is.”

Frikkie Hoffman (68) sê: “Ek het my pa gehelp hierdie huis van die grond af bou.

“My sweet en geld het ook in hierdie huis gegaan. Dis nie reg nie.”

Nou het die persoon wat daarop aanspraak maak dat sy die nuwe eienaar is, daar gekom om hulle te sê dat hulle teen 1 April moet uit.

Hoffman sê: “Sy wil nou vir ons laat agter bly, maar iets is nie vir my lekker hier nie.

“Die nuwe eienaar is my antie se vriendin en al wat sy het, is ’n koopkontrak. Sy het nie ’n uitsettingsbevel nie, want die huis is nie op haar naam nie.

“Ons het nou ’n prokureur aangesit om die saak te ondersoek.”

Die vermeende eienaar, Anna Hoffman, sê: “My prokureur het hulle ingeroep om die testament te laat sien, maar hulle wou nie kom nie.

“Ek het hulle verlede jaar twee keer mondelings gesê hulle moet rent betaal.

“Ek het nie ’n inkomste nie en ek is alleen. Wanneer iets stukkend is, moet ek dit laat regmaak.

“My vriendin dreig niemand nie.”

Die vermeende nuwe eienaar, Amierah Johnson-Crombie, sê sy het die huis gekoop en trek 1 April in.

“Die registrasie is nog in proses, maar ek het die huis gekoop.

“Ek het hulle alternatiewe blyplek aangebied, maar hulle het geweier.

“Ek was daar om hulle te sê van die veranderinge wat ek gaan aanbring aan die huis, maar ek het mooi gepraat.

“Ek wil hulle nie op straat sien nie.

“Madeleine is net kwaad oor sy nog nooit vir haarself gewerk het nie. Sy vrees om te gaan werk.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters