2 maande gelede
Bloed ‘vertel anders’
nie konsekwent: ’n Uitdrukkinglose Henri van Breda daag gisteroggend by die Kaapse hooggeregshof op.Foto’s: Peter Abrahams  ~ 

DIE bloedspatselpatrone op die toneel waar Henri van Breda se ­gesin vermoor is, staaf nie sy weergawe van wat daardie aand gebeur het nie.

Só het kapt. Marius Joubert, ’n kenner van die polisie se forensiese eenheid in Plattekloof, gister op dag 37 van die driedubbele bylmoordsaak in die Kaapse hooggeregshof getuig.

Joubert het die toneel gefynkam ná die bloedige moorde op 21 Januarie 2015 op die posh De Zalze-landgoed in Stellenbosch.

Henri staan tereg vir die moord op sy ouers, Martin en Teresa, sowel as sy broer, Rudi.

Hy word boonop van poging tot moord op sy suster, Marli, aangekla.

Henri staan ook tereg op ’n aanklag van regsverydeling omdat hy na bewering met die toneel gepeuter het.

Hy’t reeds op 24 April gepleit en op alle aanklagte skuld ontken.

Joubert, die laaste staatsgetuie in die saak, het gister getuig hy sluit nie die moontlikheid uit dat die toneel “ge-stage” is nie.

Regter Siraj Desai het die kenner gevra wat hy daarmee bedoel.

Joubert het verduidelik “staging” kan omskryf word as die verandering aan of skepping van bewysstukke op ’n toneel om die ondersoek weg van die kwaaddoener óf na ’n spesifieke individu te lei.

Volgens Joubert het die bloedvlekke op die grys slaapbroek en wit sokkies wat Henri gedra het, nie gestrook met Henri se weergawe van wat gebeur het nie.

Bloedvlekke en bloedvlekpatrone wat in die stort en ander plekke gevind is, is ook nie konsekwent met Henri se weergawe nie.

Joubert sê: “Gegrond op ál my vorige oorwegings en my opinies is dit my gevolgtrekking dat die getuienis voor die hof nie strook met die aksies en gebeure soos dit in Henri van Breda se verklaring beskryf is nie.”

Volgens Joubert was Teresa reeds op die vloer toe sy aangeval is.

Teresa het ook blykbaar die aanvaller in die gesig gestaar, getuig Joubert.

Joubert getuig voorts dat Martin se beserings aan sy rug en nek daarop dui dat die pa besig was om aan Rudi aandag te gee.

Volgens hom het Martin se beserings daarop gewys dat hy deur die aanval verras is.

Die defensiewe beserings wat Marli aan haar linkervoorarm opgedoen het, dui daarop dat sy die aanval probeer afweer het en ook die aanvaller in die gesig gestaar het.

Henri se beserings strook ook nie met sy weergawe dat hy op die trappe flou ­geval het nie.

Joubert se kruisondervraging deur adv. Pieter Botha, Henri se law­yer, duur vandag voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters