7 maande gelede
Vetkop val nie vir Johnny Avontuur se liegstories nie
 ~ 
HAAI, Sonlanders! Johnny Avontuur is op ’n mission om een van Brother se kompetisie aan die Weskus van kant te gaan maak. Dit is in ruil daarvoor dat Brother die lyk van ’n gevreesde gangster uit sy blyplek sal verwyder. Maar as Johnny gedog het dit gaan ’n easy job wees, maak hy hom lelik laat. Dié rival van Brother, Vetkop Arendse, vind uit dat Johnny na hom soek en stuur van sy hand­langers om Johnny na hom toe te bring. Gaan Johnny se hele plan hier vou? Geniet hoofstuk 6 van ELDRIDGE JASON se ­Avontuur. 
Johnny voel soos ’n muis wat deur honderd katte in ’n hoek gedryf is.
En net toe Brother hom in hierdie ding gedruk het, besef hy dat Vetkop Arendse die een met die hef in die hand is.
Wat gaan hy maak? Hy kan mos nie net sê: “Hallo, my naam is Johnny Avontuur, Brother het my gestuur om jou breins weg te blaas nie.”
“Kom, kom, die ou wag,” sê Snake langs hom.
“Vetkop hou nie daarvan om op mense te wag nie.”
Johnny klim traag uit. Hy voel soos ’n lam wat na die slagpale gelei word.
En om alles te kroon, lê die vuurwapen wat Brother hom gegee het nog in die cubbyhole.
Snake gee drie harde kloppe teen die voordeur. 
Binne sekondes swaai die deur oop.
’n Man geklee in ’n swart manelpak maak die deur oop en staar hulle uit die hoogte aan.
“Solly, dis nie nodig om jou so high en mighty te hou nie,” blaf Snake.
“Die baas expect ons. So, ek het nie ’n afspraak nodig nie, blerrie windgat butler.”
Solly, die butler, se wenkbroue lig en Johnny sien afkeer op sy gesig.
Maar Solly staan terug en laat hom verbykom.
“Meneer Arendse is in sy studeerkamer,” sê hy stram. “Jy weet mos waar dit is, maar hierdie twee,” sê Solly terwyl hy na Lange en Wange wys, “julle twee moet buite wag. Instruksies van meneer Arendse.”
Lange en Wange brom onderlangs, maar stap dan traag na buite.
Snake skud sy kop en wys vir Johnny om hom te volg.
“Daai Solly kan hom baie verbeel,” sê Snake aan Johnny terwyl hulle die gang afstap.
“Hy dink omdat hy matriek het en Engels kan praat dat hy die kat se snor is.”
Johnny sê niks nie. Hy vertrou nie sy stem nie. Hy is nie skaam om te erken dat hy bang is nie. Vrekbang.
Snake stap tot aan die einde van die gang en draai dan regs in ’n massiewe vertrek in.
Die hele vertrek is van hoek tot kant met die duurste leerbanke gemeubileer, merk Johnny op.
En in die verste hoek sit ’n massiewe ou met ’n ewe massiewe, vet kop.
“Finally,” bulder die stem deur die vertrek. “Jy vat ook darem jou tyd, Snake.” 
“Sorry, bossy,” sê Snake verskonend.
“Hier’ie ou wou nog eers sy laaste bier afsluk.”
Hy knik in Johnny se rigting.
“Nou kom dan f*kk*n nader,” bulder Vetkop weer.
“Of gaan ons van ’n distance af op mekaar skree?”
Snake stap haastig nader en Johnny volg hom.
Vetkop kom moeisaam orent.
“So, djy is die Townian wat my soek?” sê-vra hy aan Johnny en bekyk hom op en af.
“Ek het nie tyd vir lang dinge nie, so ek gaan djou net één keer vra: Hoekom soek djy my?”
Johnny voel soos een van Sneeuwitjie se dwergies toe hy moet opkyk na Vetkop.
Hy weet nie of hy die man in die oë moet kyk of moet staar na die spekke vet wat lui in sy nek af hang nie.
“Ek wou net weet wie in charge hier is met die oog op ’n business opportunity,” probeer Johnny ’n kaart skiet.
Op pad hierheen het hy gedink dat dit die eerste verskoning is waarvoor ’n besigheidsman soos Vetkop dalk sal val.
Dan gebeur iets wat Johnny in sy wildste drome nie verwag het nie. Een van Vetkop se vet vuiste skiet skielik vorentoe en tref hom vol op die mond.
Johnny sien sterretjies en een van sy tande in slow motion verby hom sweef.
Voordat hy tot verhaal kan kom, tref nog ’n vuishou hom. Dié keer op die oogbank.
Johnny kreun en sak inmekaar van die pyn.
Dan waggel Vetkop weg, stap tot by die bar counter waar hy ’n handdoek gryp en in Johnny se rigting smyt.
“Wat jy ook al doen, djy mors nie djou bloed op my duur matte nie,” sis Vetkop.
“Wiet djy hoe duur kos dié goete?”
Johnny voel-voel na die handdoek en beur dan swaar orent.
Sy hele gesig pyn. Hy weet nie of hy die handdoek teen sy mond of oogbank moet hou nie.
“Gaan vang ’n pos,” beveel Vetkop vir Snake.
“Moenie hier rondstaan en f*kk*l doen nie.”
Snake skarrel na die deur en trek dit dan agter hom toe.
Vetkop stap na sy kroeg, waar hy twee glase uithaal, twee stywe doppe gooi en dan ys byvoeg.
Dan gaan sit hy op ’n bar-stoeltjie wat hewig onder die gewig protes aanteken.
“Hou op kreun. Jy is nie nou in een of ander Pollsmoor-porn movie nie,” sê Vetkop ongevoelig.
“Kom kry jou sit.”
Johnny stap gedweë nader en gaan onseker op die stoeltjie langs Vetkop sit.
“Elke dag kom hier ’n tikkop aan met een of ander liegstorie oor hoe my business skade ly,” sê Vetkop en vat nog ’n sluk van sy dop. 
“But ek ken elke liewe liegstorie van hulle. Elke liewe een.
“So, hou op om my te underestimate, of jy gaan lelik twiede laaste kô.”
Johnny haal die handdoek van sy mond af weg en vat ’n sluk van sy dop.
Hy gil van die pyn toe die alkohol kontak met sy oopgeskeurde lippe maak.
Hy draai na Vetkop, maar dié het geen simpatie met hom nie.
“Djy moet dankie sê ek’t djou nog so liggies geslaan,” sê Vetkop.
Johnny hou op kreun. 
As daai houe Vetkop se “liggies” was, wil hy wragtig nie die volle omvang van dié massiewe jong se vuishoue voel nie.
“Ken jy vir Brother in die Kaap?” vra Johnny.
Sy mind is opgemaak. 
Slimmigheid gaan nie sy bas red nie.
Al hoop wat hy nou het, is dat eerlikheid maybe, just maybe, sy bas kan red.
“Ek ken hom, dja,” sê Vetkop en kyk Johnny stip in die oë.
“Ek ken daai gemors vetterig. 
“Hoekom sal ek dan nou nie my broer ken nie.”
)  Lees môre verder 
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters