2 maande gelede
Vetkop beveel sy manne om Johnny na hom toe te bring
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Johnny Avontuur het geen ander keuse as om Broth­er se aanbod te aanvaar nie. Niemand gaan hom anyway glo as hy sê hy weet nie hoe die lyk van ’n dikding gangster se girlfriend by sy plek beland het nie. Dus stem hy maar traag in om Weskus toe te gaan om een van Brother se rivals, Vetkop Arendse, daar te gaan uithaal. Maar daar gekom, besef Johnny dit gaan nie so maklik en seepglad verloop soos wat hy gedink het nie. Geniet nou hoofstuk 5 van ELDRIDGE JASON se ­Avontuur. 
Vetkop Arendse is ’n massiewe man.
Hy het ’n boomstomp vir ’n nek waarin die spekke vet baie male soos ’n vlag in die wind wapper.
Vandaar sy bynaam.
Maar niemand durf waag om spottend na hom en sy bynaam te verwys nie.
Nie as hierdie persoon sy lewe liefhet nie.
Vetkop is lief daarvoor om te sê dat hy nie k*k van kabouters vat nie.
En dié wat hom baie goed ken, weet dat hy nie ’n joke maak nie.
Daarvoor het veels te veel mense al in die hospitaal en lykhuis beland.
Hy sit in sy cosy huis in die Mosselbank-woonbuurt en tuur oor die seewater.
Die wind waai weer erg – tot Vetkop se frustrasie.
Besigheid staan stil. Die buyers van sy smokkelnetwerk sit ongeduldig en wag in Plattekloof in die Kaap.
Elke dag bel hulle hom en wil dan weet wanneer die next shipment kreef en perlemoen afgelewer gaan word.
Dié verruil hy vir tik en buttons wat hy weer na verskillende afsetgebiede aan die Weskus versprei.
Sommige fluister dat Vetkop al ’n multimiljoenêr is van ander se lewe verwoes.
Maar hy kap zip. Niemand hoef te weet wat in sy bankrekenings aangaan nie.
En, besides, hy maak ruim skenkings as iemand met ’n lootjie of ’n ding aan sy deur klop.
Vetkop sug en vat weer ’n sluk van sy 45 jaar oue Dalmore Aurora.
Amper R60 000 betaal vir dié ding wat so sleg smaak, dink hy.
Maar hy moet sy pose hou. Baie mense kyk op na hom en hy kan nie sy vlag laat val nie.
Vetkop sug toe sy selfoon weer lui.
Hy hou nie van hierdie tegnologiese laspos nie, dink hy wrewelig.
Waar is die goeie ou dae van die huisfoon wat jy nie so baie hoef te beantwoord het nie?
Hy kyk na die naam wat op sy selfoonskerm verskyn.
Snake, een van sy holborsels.
“Ja!” blaf Vetkop.
“Wat soek jy?”
“Aaw, my larney, is dit nou nodig om so my kop af te wil byt?” try Snake hom slim hou.
“Nou, moet ek dan jou kop vir jou f*kk*n weg laat skiet?” vra Vetkop.
“Nee, nee, ek mean maar net,” skerm Snake vir die wickets van sy lewe.
“Ek wou net sê ek het vroeër krief hier by die four-way verkoop, toe kô daar ’n Townian wat vir die larney soek.”
Vetkop frons.
“Vir my?
“Het hy gesê hoekom?”
“Nee, my larney,” antwoord Jesus.
“Jy bel my mos nou vir k*k,” sê Vetkop kwaad.
“Sal jy vir my vir hierdie stront ook bel as Liewe Jesus my soek?”
Snake bly stil. Hy het gedink hy doen ’n goeie ding deur Vetkop met sy laaste airtime te bel.
“Waar is daai jong nou?” vra Vetkop.
“Ek weet nie, my larney. Maar hy het in die rigting van daai bar vol panties gery,” antwoord Snake gretig en in die hoop dat dié info hom weer in Vetkop se goeie boekies sal laat beland.
“Nou, vir wat vat jy nog my f*kk*n tyd?” blaas Vetkop weer ’n gasket.
“Gaan jy, Lange en Wange, kry daai Townian en bring hom hier na my toe.
“Ek f*kk*n betaal julle anyway nie om karre dop te hou nie.”
Dan beëindig hy die oproep en vat weer ’n sluk van sy duur dop.
’n Townian, dink hy. Interessant.
Raak die Kaap dan nou so warm dat hulle kom uit-check vir besigheid aan hierdie kant?
Maar hier passelie hý. Hierdie is sý turf, ’n plek waar al wat loer, op sy moer kry...


JOHNNY het pas ’n sluk van sy derde glas bier gevat toe ’n jong in ’n deurwinterde leather jacket langs hom inskuif.
“Ek hoor jy soek vir Vetkop,” val die jong met die deur in die kroeg.
Johnny draai hom half skuins.
“Waar hoor jy dit?” vra hy en loer agterdogtig na die man langs hom.
“Dit was nou net in 7de Laan,” antwoord die jong sarkasties.
“Hierdie is ’n klein plekkie en as iemand ’n man soos Vetkop soek, versprei daai nuus soos ’n veldbrand.”
Johnny trek sy skouers op en vat ’n sluk van sy bier.
“Ek likes nie jou attitude nie,” sê hy dan. Sy blik swig nie onder die hardegat een van die man langs hom nie.
“Hierdie is nie ’n attitude-kompetisie nie,” sê die man. 
“Ek is Snake. Twee van my brasse, Lange en Wange, wag hier buite.
“As jy wil, kan ons jou gaan wys waar Vetkop woon.
“But as die man nie wil nie ...”
Snake maak ’n move om op te staan.
“Okay, okay,” gooi Johnny wal.
“But ons ry met mý kar.
“Jou ma kan dalk lief wees vir jou, but ek likes nie jou gevriet nie.”
Snake trek sy skouers op. Johnny se belediging laat hom koud.
Elke liewe dag van sy lewe hoor hy anyway by Vetkop hoe sleg hy is...
Buite gekom, merk Johnny op dat dit nou sterk skemer begin raak.
Twee ander swart gebrande ouens sluit hulle by hom en Snake aan. Lange en Wange, neem hy wat Johnny is aan.
“Waarheen ry ons?” vra Johnny aan Snake toe hulle in die kar klim.
“Mosselbank toe,” sê Snake kortaf.
“Jy sal dit daar geniet.”
Snake beduie aan Johnny om om te draai.
By ’n winkel met ’n “oep-vi-koep”-bordjie voor, beduie Snake hy moet links draai.
Die pad maak ’n hele paar kronkels en net voordat dit doodloop, wys Snake dat hy links moet draai.
Dan doem ’n massiewe stuk huis voor hulle op.
“So, dís waar Vetkop woon?” sê-vra Johnny. “Okay, ek sal julle gou gaan aflaai en dan sal ek weer môre–”
“Dis nie nodig vir ’n comeback nie,” val Snake hom in die rede.
“Vetkop weet van jou. Hy weet jy is op pad.”
Johnny se maag gee ’n draai. Iets sê vir hom dinge is besig om vinnig wim te draai...
) Lees môre verder

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters